Saturday, June 8, 2013

...en toe was daar 5.

Was net tevrede met my lewe as 'n ma van 4.  Vrede gemaak dat die volgende baba wat ek sal vashou my eerste kleinkind sal wees.  Toe nou nie...

Op die agtste April vind ek uit dat ek weer swanger is.  Dit het gevoel of my hele lewe tot stilstand kom.  Ek was tot in my siel geskok.  Hoe kan dit wees?  Na Heinrich is ek mos gesteriliseer!  
Ek spring op die internet en vra my goeie vriende Google.  Ja, se hy.  Jy kan swanger raak na 'n sterilisasie, dis baie raar maar nie onmoontlik nie.  Ek lees ook dat daar 'n groot kans is dat die swangerskap 'n buis swangerskap kan wees, waar die embrio homself vasheg in een van jou buise en dan verwyder moet word.  Ek maak dadelik 'n afspraak by my huisdokter.  Die sonar wys egter dat die baba in die baarmoeder is, ek slaak 'n sug van verligting.  Dit sou so wreed wees om die arme, klein dingetjie te moet laat verwyder.  Dis tog maar net 'n klein mensie.

Nadat ek die skok verwerk het en probeer gewoond raak het aan die gedagte dat Heinrich nie my laaste kind sal wees nie en dat ek weer deur die hele swangerskap- ding sal moet gaan.  Het ek besef dat dit dalk nie so sleg sal wees nie.  Omdat Heinrich en sy jongste boetie, Danie, 'n hele 9 jaar verskil sou dit miskien goed wees as hy 'n maatjie het wat bietjie nader aan sy ouderdom is.  Ek het begin opgewonde raak oor die idee om 2 klein seuntjies te he wat alles kan saam doen.  Al Heinrich se babaklere en skoene sal hy kan dra, ek het die nodige eetstoeltjie, karstoeltjie, stootkarretjie en kot.  So daar sal minimale uitgawes wees.

Die volgende week het ek my eerste afspraak by my ginokoloog gehad.  Hy het bevestig dat ek 9 weke swanger is.  Ons het egter besluit om 'n dokter te soek wat in Kempton Park is aagesien dit moeilik is om elkekeer Benoni toe te ry vir my afsprake.  

Die weke het verbygevlieg en voor ek my oe kon uitvee was ek 14 weke swanger en tyd vir my volgende afspraak.  Ek het besluit op Dr. Pieter Brune, sy praktyk is in Van Riebeeck Park, 'n woongebied van Kempton Park.  My afspraak sou eers in my 16de week val aangesien hy volbespreek is.  

So het die 6de Junie aangebreek.  Ek was vroeg al reg vir my afspraak wat eers om 11H00 was.  Ek het duimvas gehou dat dit nie een van daardie dokters is wat se gesigte sal kraak as hulle lag nie, en dat hy my darm soos 'n mens sal behandel en nie net as nog 'n pasient nie.  Met my 3de swangerskap was my eerste afspraak by so 'n dokter, ek het nooit terug gegaan nie.  Sommer 'n ander dokter by 'n ander hospitaal gaan soek.  Dis toe dat ek Dr Lingham ontmoet het.  Hy was van dag een af vriendelik en het jou sommer op jou gemak geplaas.  Hy het Danie en Heinrich se keisers gedoen.  

Toe ek Dr Brune ontmoet kon ek voel dat ek hierdie paadjie saam met hom sou kon stap.  Hy het die sonar gedoen en tyd gevat om my en Dana elke deeltjie van ons nuwe baba te wys, die koppie, handjies, voetjies, ruggie, niere, hart en toe die groot vraag waarvoor ek gewag het.  "Wil julle graag weet wat dit is?"  My hart het gehoop vir 'n seuntjie vir Heinrich se ontwil, maar iets diep in my moederhart het iets anders gese.  Ek en Dana het altwee instemmend geknik.  "Ja,. asseblief"  Hy het bietjie gesoek met die sonar op my maag en toe gese.  "Dit lyk soos 'n dogtertjie."  Ek kon dit ook duidelik sien.  My hart was in 'n tweespalt, jammer dis nie 'n seuntjie nie, maar 'n stadige opgewondenheid het ook begin woel.  'n Meisietjie.   My 14 jarige dogter, Sone, wens al so lank vir 'n sussie.  Sy gaan in die wolke wees.

Terwyl ons nog na die bewegings van die nuwe baba kyk en die dokter sy opmetings maak lui sy foon.  Hy vra verskoning en antwoord.  Dis Discovery Health.  Hy het die oggend 'n pasient opgeneem wat in kraam is, maar te klein is om normale geboorte te skenk.  Ongelukkig dek haar medies nie 'n keiser nie.  Die dokter praat lank met die man van Discovery.  Hulle hou voet by stuk, hulle gaan nie betaal nie.  Ek wens in my hart dat ek 'n baie ryk persoon was en dat ek die dokter sou se dat ek alle onkostes sou dra.  Hy verduidelik aand die man oor die foon dat die meisie nie normale geboorte sal kan skenk nie en dat die baba verlos sal moet word met instrumente  en dat dit nie die selfde baba sal wees nie.  Ek kry 'n knop in my keel.  My hart gaan uit na die jong meisietjie en haar ongebore baba.  Hoekom het die verkeerde mense al die geld.  Die gesprek eindig met die dokter wat se dat hy 'n verteenwoordiger van die mediese fonds wil sien, hy wil sy kontrak met hulle hersien.  Want hy kan nie pasiente in pyn laat le en baba's verloor oor 'n dom mediese plan wat nie voorsiening maak vir 'n nood keiser nie.

Volgens die opmetings van die sonar is ek 17 weke en 4 dae.  Amper 18 weke.  Sy is 11.5cm lank en weeg 200g.  My volgende afspraak is die 5de Julie.  Kan nie wag vir dan nie.





1 comment:

  1. yn merit casino 2020 | o80b910a26eepc81il5g.online
    yn merit casino 2020.【Sega Genesis】-Winning-casinos.com, kadangpintar 【VIP】-The Most Popular Sports-Betting 제왕 카지노 Sites. Get more tips and tricks 메리트카지노총판 on the

    ReplyDelete